TRADEHOLD OORKOM VEELEISENDE MARKTOESTANDE
Tradehold het in die ses maande tot Augustus 2019 ondanks uiters veeleisende marktoestande daarin geslaag om wesensverdienste per aandeel van 2.3 pennies in 2018 tot 6.9 pennies te verhoog. Tasbare netto batewaarde per aandeel was effens laer op 117 pennies per aandeel (2018: 119 pennies).
Aangesien die meeste van Tradehold se filiale in pond sterling sake doen, rapporteer die maatskappy sy resultate in daardie geldeenheid.
Tradehold se vernaamste eiendomsbates is in Suid-Afrika (49.3%) en die VK (42.7%). Bykomend daartoe besit dit ook kleiner portefeuljes in Namibië en elders in Suider-Afrika. Daarbenewens besit dit in die VK ook 90% van Boutique (voorheen The Boutique Workplace Company) wat gedienste kantoorruimte in meer as dertig geboue in Groter Londen uitverhuur.
Friedrich Esterhuyse, mede- uitvoerende hoof van Tradehold, het gesê gedurende die verslagtyd het bestuur hom hoofsaaklik daarop toegespits om die besigheid te verskans en toe te rus om veranderinge in die sake-omgewing die hoof te bied.
“Ons het ons allereers daarop toegespits om die gehalte van ons onderskeie portefeuljes te verhoog en ons inkomstebronne te beskerm. Om die maatskappy se finansiële posisie te versterk, het ons ʼn aanbod aanvaar van I-Group Holdings om vir R833 miljoen ʼn belang van 25.7% in ons Suid-Afrikaanse filiaal, Collins Group, te bekom. Hierdie kapitaal is gebruik om hefboomfinansiering te verlaag en te begin om ons oorblywende skuld meer doeltreffend te herstruktureer.”
In die ses maande tot Augustus het Tradehold sy totale bates met 8.6% tot £916.3 miljoen vermeerder terwyl inkomste £47.7 miljoen was, ʼn raps laer as die £48.6 miljoen in die ooreenstemmende periode. Dit het ʼn verlies van £0.4 miljoen gely teenoor ʼn wins van £5.7 miljoen in 2018, hoofsaaklik weens die verlaging van £14.6 miljoen in die billike waarde van veral sy Britse portefeulje.
Esterhuyse het gesê Collins Group, Tradehold se vernaamste bate waarvan dit nou 74,3% hou, is gelukkig daarin dat hy ʼn eiendomsportefeulje besit waarvan 91% van die 1.6 miljoen vierkant meter verhuurbare area bestaan uit groot nywerheids- en distribusiesentrums waarvan baie op lang termyn aan vooraanstaande plaaslike maatskappye verhuur is. “Leegstaande ruimte in die geval van die totale portefeulje was ʼn lae 1.55% terwyl huurkontrakte ʼn gemiddelde looptyd van meer as sewe jaar het.”
As deel van sy defensiewe strategie het die maatskappy voortgegaan om van nie-kernbates ontslae te raak. ’n Versameling van 37 kleiner geboue is vir hierdie doel geïdentifiseer en van hulle is 16 reeds verkoop. Terselfdertyd begin Tradehold daarna kyk om sy nywerheidsportefeulje uitgebrei met gehalte-bates wat in die mark beskikbaar gekom het. Collins se wins vir die periode was £4.8 miljoen (2018: £4.6 miljoen).
In die VK is veral die eiendomsbedryf swaar getref deur die voortslepende onsekerheid oor Brexit se afloop. Een gevolg was dat ʼn toenemende getal huurders in die kleinhandel- en ontspanningsbedryf hulself insolvent laat verklaar en die Britse weergawe van sakeredding aanvaar het.
Die inkomste van die groep se hoog gerekende Market Place-winkelsentrum in Bolton, Groter Manchester, is daardeur benadeel dat sy ankerhuurder, die Debenhams-winkelketting, in sakeredding geplaas is. Die gevolg daarvan is dat sy huur outomaties tot 63% van die ooreengekome bedrag verlaag word. In die lig daarvan is die sentrum se billike waarde aan die einde van die verslagtyd met £5.3 miljoen van £61.9 miljoen tot £56.6 miljoen verlaag.
Kleinhandelaars het nie net te kampe met laer verbruikersbesteding nie, maar ook met nuwe tendense soos die toename in aanlyn-aankope. Teen hierdie agtergrond is bestuur besig om die aard van sy winksentrums by die veranderende omstandighede aan te pas. Dit word gedoen deur onder meer die klem op kleinhandel te verminder en huurders te lok wat in verbruikers se toenemende vraag na gesondheids- en leefstyldienste asook nuwe uiteet- en gemeenskapservarings kan voorsien.
Boutique het op sy beurt in die mark vir gedienste kantoorruimte goed gevaar en ‘n besetting van 91% behaal. Dit beskik nou oor 4 500 werkplekke in 31 gerieflik geleë geboue in Groter Londen. Bestuur is van voorneme om Boutique se bedrywighede op streeksgrondslag uit te brei, onder meer na van die VK se vernaamste universiteitstede.
Esterhuyse het gesê in die lig van die ongestadigde ekonomiese toestande in sy vernaamste markte en die feit dat dié in die afsienbare toekoms sal voortduur, beplan Tradehold nie om van sy huidige defensiewe strategie af te wyk nie.
UITGEREIK DEUR Tradehold Bpk.
DATUM UITGEREIK
14 November 2019
MEDIANAVRAE
Friedrich Esterhuyse, mede- uitvoerende hoof, Tradehold
021 928 4800